Toelaes 'wurg ons land dood'
2012-01-30 08:00
Johannesburg – Maatskaplike toelaes in Suid-Afrika gaan in ’n ramp ontaard indien die regering dit nie drasties en vinnig verminder nie, waarsku kenners.
“Griekeland se ekonomie is op die rand van die afgrond omdat hy sy maatskaplike toelae-program uitgebrei het. Indien ons voortgaan met wat ons nou doen, sal dieselfde met Suid-Afrika gebeur. Dit gebeur met ander lande. Dit is onvermydelik,” het Moeletsi Mbeki, politieke ontleder en ekonoom, Sondag aan Die Burger gesê.
Volgens die jongste South Africa Survey, wat verlede week deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings (SAIRV) gepubliseer is, het die aantal Suid-Afrikaners wat maatskaplike toelaes ontvang die afgelope dekade met 333% toegeneem. Net minder as 15 miljoen van Suid-Afrika se bevolking van 50 miljoen mense ontvang nou sulke toelaes.
“Ons dink dalk omdat ons platinum en goud het, sal dit nie met ons gebeur nie. Dit gaan gebeur,” het Mbeki gewaarsku.
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, het gesê Suid-Afrika sal die pas waarteen hy maatskaplike toelaes uitdeel vir net nog sowat drie tot vier jaar kan volhou.
“Ek is bevrees dit is beslis nie volhoubaar nie. Die realiteit is dat die belastingbetalers reeds oorbelas is en die druk op die staat veral ten opsigte van maatskaplike uitgawes nog lank gaan voortduur. Dit beteken die rekkie gaan êrens moet skiet.
“Die staat se skuldvlakke is nog redelik laag, maar dit is vinnig besig om te styg. Die dag gaan kom, net soos in Europa, dat die finansiële markte, veral die kapitaalmarkte, gaan sê dinge is nou te veel.”
Roodt het gesê die staat se finansies gaan binnekort “onder geweldige druk kom” en daar moet nou stappe gedoen word om toelaes te verminder.
“As ’n mens dit doen wanneer die markte jou dwing om dit te doen, is dit baie pynlik.”
Altesaam 10,3 miljoen kinders is verlede jaar met maatskaplike toelaes onderhou. Dit is 1 200% meer as in 2001.
Monica Rubombora, uitvoerende direkteur by Accenture SA, adviseer die regering oor maatskaplike welsynkwessies. Sy het gewaarsku Suid-Afrika is vinnig op pad om ’n welsynstaat te word.
“Daar word voorspel dat ons belastinginkomste minder gaan word. Die koek word al hoe kleiner, maar terselftertyd sien ons al hoe meer word aan maatskaplike toelaes bestee. Ons kan nie bekostig om nóg meer aan welsyn te bestee nie. Iewers gaan iets in die slag bly.” Die probleem kan net opgelos word indien miljoene Suid-Afrikaners van welsyntoelaes gespeen word.
Volgens Mbeki gebruik die ANC maatskaplike toelaes as deel van ’n politieke spel.
“In Suid-Afrika sê ons: ons gee vir julle toelaes, stem vir ons.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger