Studie: Tieners in SA stede sien pa’s die minste
2011-06-16 07:15
Suid-Afrikaanse tieners in stedelike gebiede sien hul pa’s heelwat minder as jonges van soortgelyke areas oorsee.
Die marknavorsingsmaatskappy TNS Research Surveys het Woensdag gesê ’n internasionale studie waarby 38 000 tieners van 40 lande betrek is, het getoon net 55% van tieners tussen 12 en 19 jaar oud in Suid-Afrikaanse stede het albei hul ouers tuis.
Dit is heelwat minder as die gemiddelde van 76% vir die ander lande.
Daar was net vier lande wat vrotter gevaar het as Suid-Afrika. Dit was Ghana, die Ivoorkus en twee Skandinawiese lande.
Volgens Steven Watt van TNS het die peiling getoon 3% van die 45% stedelike tieners wat net ’n pa of net ’n ma het, woon net by hul pa’s. Die ander 42% woon by net hul ma’s.
Die groep van 800 het bestaan uit 585 swart tieners , 84 wit tieners, 95 bruin tieners en 36 Indiër- en Asiese tieners.
Daar is bevind meer as 80% van wit en Asiese tieners woon by albei ouers, teenoor net 50% van swart en 56% bruin tieners.
13% swart kinders woon by ander familielede, teenoor 2% wit kinders en 6% bruin kinders.
Die studie het getoon meer as agt uit tien jongmense beskou hul ma as een van die drie mense wat die meeste invloed het in hul lewe met betrekking tot keuses oor die toekoms.
Net 54% het hul pa’s gelys, die minste van al die lande.
Volgens TNS dui dit moontlik op die hoeveelheid druk wat daar is op ma’s om hul kinders op te voed.
Ander bevindings was dat 92% planne gehad het om ná skool te gaan studeer, al sou heelwat minder van hulle slaagsyfers hê om dié drome te verwesenlik.
Die peiling het ook getoon 65% van tieners het selfone wat hulle vir MXit (52%) en Facebook (39%) gebruik.
- Beeld