Tienermeisie sterf in ongeluk
2012-02-02 17:56
Johannesburg – ‘n Vyftienjarige skoolmeisie het Donderdag gesterf nadat sy deur ‘n motor getref is in Butterworth, het die polisie in die Oos-Kaap gesê.
Die ongeluk het in Mission Village, Butterworth, gebeur terwyl die meisie skool toe gestap het, het kapt. Jackson Manatha gesê.
Die graad 10-leerling van die Lamplough Sekondêre Skool is op die toneel dood.
“Die oorsaak van die ongeluk is in hierdie stadium onbekend, maar nat paaie weens swaar reënval kon dalk ‘n rol gespeel het.”
Volgens Manatha het die polisie ‘n saak van strafbare manslag teen die bestuurder, ‘n beampte van die onderwysdepartement se kantoor in Butterworth, oopgemaak.
Hy was blykbaar op pad na ‘n vergadering. Die meisie se naam is nog nie bekend gemaak nie, aangesien haar familie nog ingelig moet word.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA