Tienerhart gee seun nuwe lewe
2010-11-05 10:00
Kaapstad. – “Ek is bly om julle te sien en ek wil dankie sê vir Liewe Jesus.”
Dié woorde het Christiaan Stassen (11) van Bloemfontein gisteroggend met sy vinger op sy ma, Liezel, se handpalm uitgeskryf toe hy sy ouers en sussie vir die eerste keer ná sy hartoorplanting Woensdag gesien het.
Liezel Stassen is al van 5 Julie saam het haar seun in die Kaap.
Christiaan se hart is onherstelbaar deur ’n virus beskadig toe hy drie jaar oud was.
“Hy was baie bly om ons te sien en daar was trane in sy oë,” het Stassen Donderdag gesê.
Christiaan was Donderdagoggend nog aan die asemhalingsmasjien in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal gekoppel en kon nie praat nie, maar nadat dit verwyder is, het hy regop gesit en water gevra.
’n Noodvlug het eergisteroggend van Kaapstad vertrek om die skenkerhart van ’n tienermeisie in Kimberley te gaan haal.
Christiaan se pa, adv. Chris Stassen, en sussie, Liezel-Mari, het Dinsdagaand deurnag van Bloemfontein af gery om betyds vir die oorplanting te wees.
“Toe Christiaan by die teater ingestoot is, het ons rustig geraak en dit aan die Here oorgelaat.
“As mens is jy gespanne, maar jou kind is in die Here se hande,” het mev. Stassen gesê.
Hulle wil die publiek graag bewus maak van die belangrikheid van orgaanskenking. “Hier is nog ’n pasiënt wat al drie maande wag vir ’n hart. Dit is so dringend.”
Die Noord-Kaapse departement van gesondheid het gister groot lof gehad vir die ma wat haar tienerdogter se organe vir oorplanting geskenk het nadat sy breindood verklaar is.
Benewens haar hart is haar lewer, niere en korneas ook eergister oorgeplant.
“Hierdie moeilike besluit, geneem in ’n tyd van groot hartseer en tragedie, is uiters dapper.
“Dit het nuwe lewe vir vier uiters siek mense gebring, asook sig vir twee blindes,” het die departement in ’n verklaring gesê.
Die vierjarige seuntjie van Johannesburg wat die meisie se lewer in die Rooi Kruis-kinderhospitaal ontvang het, was gister in ’n stabiele toestand.