Tiener trap 18 skoolkinders
2009-09-12 03:14
Johannesburg - ’n Minderjarige jaagduiwel het met ’n motor in ’n groep van 18 kinders ingeploeg.
Een kind is dood en 17 is ernstig beseer.
Volgens die Mpumalanga polisie het die 16-jarige seun in Nkomene, Nelspruit, met sy oom se motor gery.
Hy het beheer oor die voertuig verloor en in ’n groep kinders, wat langs die pad geloop het, ingejaag.
Volgens insp. Andries Skwambhane het die motor verskeie kere gerol ná die ongeluk.
Die bestuurder is nie beseer nie. Hy is op die toneel in hegtenis geneem en is in polisieaanhouding, het Skwambhane gesê.
Die groep kinders, almal tussen die ouderdomme van 14 en 15, was leerlinge van Sibambhisene skool.
Hulle was meestal dogters.
Die groep was op pad huis toe na klas.
Al die beseerdes is na die Themba-hospitaal geneem vir behandeling. ’n 15-jarige seun het later aan sy wonde beswyk. Agt ander kinders is in ’n kritieke toestand. Die res verkeer in ’n ernstige toestand.
Volgens Skwambhane weet die polisie nie of die eienaar van die voertuig toegestem het dat die minderjarige sy motor gebruik nie.
"Indien hy het, is dit ’n baie ernstige oortreding," het Skwambhane gesê.
- Sapa