Tiener sterf in trompop-botsing
2010-08-29 16:00
Kaapstad – ‘n 17-jarige seun is dood en vier ander persone is beseer toe hulle omstreeks 00:30 Sondagoggend in ‘n trompop-botsing op Dannweg in Kempton Park betrokke was, het ‘n woordvoerder gesê.
Volgens Chris Botha, Netcare911-woordvoerder, het ‘n man en sy vrou teen ‘n bakkie met drie jong mans daarin gebots.
Toe Netcare911-paramedici en die brandweer by die toneel opdaag, was die pad met petrol bedek en stukke van die twee voertuie was oor die pad versprei.
Die insittendes van beide voertuie was nog in die motors vasgekeer.
Die bestuurder van die bakkie is tragies op slag dood.
Drie mense is in ‘n kritieke toestand terwyl die bejaarde vrou ernstige beserings opgedoen het.
Brandbestryders het meer as ‘n uur lank probeer om die pasiënte uit die verwronge voertuie te sny.
Die oorsaak van die ongeluk sal deur die polisie ondersoek word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24