Tiener se laaste woorde voor gru-moord op selfoon gevind
2013-01-28 12:57
Kaapstad – Die polisie het 15 opnames op 'n vermoorde tiener se selfoon gevind waarin sy haar beweerde moordenaar smeek om nie seks met haar te hê nie, is berig.
Charmaine Mare het die gesprekke tussen haar en Johan de Jager, wat haar na bewering vermoor het, opgeneem kort voor sy vroeër vandeesmaand dood is, het ondersoekbeamptes aan die Weekend Argus gesê.
Die name van die ondersoekbeamptes mag nie bekend gemaak word nie.
De Jager (48) het na bewering op 11 Januarie haar arms en bene met 'n boutsnyer afgesny. Haar verbrande bolyf is 'n paar dae later in 'n straat in Kraaifontein gevind en haar arms en bene is op verskillende plekke gevind.
Ondersoekbeamptes glo ook dat Mare verkrag is.
"Dit het my hart gebreek om na die opnames te luister. Sy sê aanhoudend: 'Nee oom, nee, ek kan nie'. Dan sê hy: 'Hoekom nie?', sy antwoord dan: 'Omdat ek minderjarig is, ek is nog nie 16 nie'," het een van die ondersoekbeamptes aan die koerant gesê.
De Jager is op 15 Januarie in hegtenis geneem en het die volgende dag in die Blue Down's-landdroshof verskyn. Hy het verlede week vir die tweede keer in die hof verskyn, waar die saak tot 15 Februarie uitgestel is vir 'n borgtogverhoor.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter