Tiener in 'n koma ná geveg naby nagklub
2013-01-28 08:15
Kaapstad – 'n Kaapse tiener is in 'n koma nadat hy en sy vriende aangeval is toe hulle op pad was na 'n nagklub, is Maandag berig.
Jean Lambrechts (19) was Saterdagaand op pad na Stones in Edwardstraat, Bellville, toe hy en sy vriende deur 'n groep van sowat 10 mans genader is, het die Cape Times berig.
Sy vriend, Juan Strydom (20), het gesê die onbekende mans het hulle geslaan, terwyl sekuriteitswagte by 'n nabygeleë nagklub toegekyk het.
Henrieta Sauer, Lamprechts se ma, het gesê daar is aan haar gesê haar seun is op sy kakebeen geslaan, waarna hy op die sypaadjie geval en teen sy kop geskop is.
Lambrechts sou Maandag met 'n IT-kursus begin.
André Traut, polisiewoordvoerder, het aan die koerant gesê 'n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer word ondersoek.
Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
In November 2011 het Corné Hale, 'n matriekleerder, in dieselfde straat gesterf nadat hy in 'n geveg betrokke was.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA