Tiener doodgesteek ná rusie
2010-01-29 12:40
Johannesburg - ‘n 17-Jarige seun is in Thabong, Vrystaat doodgesteek, nadat hy glo in ‘n argument met ‘n ander seun betrokke geraak het, het die polisie Vrydag gesê.
Die seuns van die Edu-Kollege het Donderdag glo op pad huistoe ‘n heftige argument gehad en begin baklei, het insp. Malebo Khosana gesê.
“Gedurende die bakleiery het ‘n 16-jarige leerder ‘n mes uitgehaal en die 17-jarige seun verskeie kere in sy bors, nek en onder sy linkerarm gesteek,” het Khosana gesê.
Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle die 17-jarige seun op die grond aangetref.
Die seun is op die toneel dood verklaar.
Die 16-jarige seun is in hegtenis geneem, maar is in die sorg van sy ouers vrygelaat omdat hy minderjarig is.
Hy sal binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn.
- Sapa