Thomas: ‘Hy vorder goed’
2012-02-04 07:15
Pretoria – Hoewel Thomas Ferreira goeie vordering toon, gaan dit twee jaar duur voordat die langtermyneffek van sy breinbesering vasgestel kan word.
Thomas (19), ’n matrikulant van Krugersdorp, is op 5 November verlede jaar op sy motorfiets deur Humphrey Mmemezi, LUR vir plaaslike regering en behuising, se ampsmotor omgery.
Hy het ’n traumatiese breinbesering opgedoen en was weke lank in ’n diep koma. Hy is in Desember na die Riverfield Lodge-rehabilitasiesentrum in Fourways, Johannesburg, oorgeplaas waar hy tans aansterk.
Dr. Kris Mon, Thomas se dokter by die sentrum, het gesê hy het beserings aan albei frontale lobbe van sy brein.
“Daar kan blywende gevolge wees vir sy verdere opvoeding en loopbaan, maar dis nog te vroeg om met sekerheid vas te stel. Dit kan sy intellektuele en kognitiewe vermoëns beïnvloed.”
Hy meen egter Thomas se vordering is “meer as bevredigend”.
“Mense met so ’n besering ervaar gewoonlik probleme met hul geheue en konsentrasievermoë en vind dit moeiliker om ’n gesprek te begin of daaraan deel te neem. Hulle kan egter steeds suksesvol wees.”
Volgens Mon herstel sowat 37% van hul pasiënte in so ’n mate dat hulle kan teruggaan werk toe.
“Toe hy hier aangekom het, kon hy nie eet, regtig beweeg of praat nie, wat dit baie moeiliker maak omdat hy nie sy behoeftes kon oordra nie,” het Charmaine Archary, bestuurder van die neuro-eenheid, gesê.
“Nou kan hy ’n bietjie loop, homself voer en praat. Hy kan egter nog nie aksies inisieer nie, so al kan hy byvoorbeeld sy tande borsel, moet ’n mens vir hom sê om dit te doen.
“Hy raak partykeer baie gefrustreerd.”
“Dit hang af van sy bui,” het Jacquiline Groenewald, verpleegbestuurder, bygevoeg.
“As hy in ’n goeie bui is, sal hy vinniger vorder, maar in ’n slegte bui, is dit twee treë terug.”
Thomas is tans impulsief en benodig nog baie toesig, taamlik tipies van dié soort breinbesering.
Sophia Combrink, ’n kliniese sielkundige by die rehabilitasiesentrum, het gesê Thomas is tans nog nie eintlik bewus van sy omgewing nie.
“Soos hy meer bewus raak, kan ’n mens verwag dat hy angstig sal voel.”
Volgens Combrink is haar rol om te kyk na die emosionele impak van so ’n besering op ’n pasiënt sowel as sy algemene kognitiewe funksionering.
Die impak op die pasiënt se familie is “fenomenaal”.
“Daar is soms persoonlikheidsveranderinge. ’n Mens sien dikwels dat die persoon meer kortaf is en makliker geïrriteerd raak. Hul emosies is minder gereguleer. Die familie self gaan ook deur ’n traumatiese episode. Die kerk en vriendekring speel hier ’n rol.”
– Volg Nuus24 op
Twitter
- Beeld