The Spear: Wag óók vasgetrek
2012-05-23 14:15
Johannesburg – Die polisie het 'n veiligheidswag van die Goodman-galery in Johannesburg in hegtenis neem.
Die SABC het betroubaar verneem dat die wag aangekla gaan word, omdat hy na bewering een van die mans wat die omstrede skildery oor pres. Jacob Zuma beskadig het, aangerand het.
"Hy is 'n kort rukkie gelede in hegtenis geneem," het kol. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, gesê.
Die veiligheidswag het Louis Mabokela met die kop gestamp en op die grond neergegooi. Mabokela het volgens Naidoo Dinsdag 'n aanklag van aanranding aanhangig gemaak, berig Sapa.
Dié nuus volg nadat drie mans in verband met die voorval in die galery in hegtenis geneem is.
Die eerste man, wat rooi kruise oor die skildery geverf het, is as Barend la Grange identifiseer. Die jonger man, Mabokela, het swart verf oor die kunswerk gesmeer. Die derde man is as George Moyo geïdentifiseer. Hy het na bewering “respect” op die galery se muur probeer spuit.
Brett Murray se omstrede kunswerk, The Spear, toon die president met sy gulp oop en sy penis blootgestel. Die kunswerk is vir R136 000 by die Goodman-galery in Johannesburg verkoop.
Volg Nuus24 op Twitter