'Testosteroon' in Oscar se huis nié opkikkers
2013-02-20 13:01
Pretoria – Die "testosteroon" wat in die atleet Oscar Pistorius se huis gevind is, was 'n kruiemiddel en nié 'n verbode middel nie, het sy advokaat, Barry Roux, Woensdag in die Pretoriase landdroshof gesê.
"Dit is 'n kruiemiddel. Dit is nie 'n steroïed nie en dit is ook nie 'n verbode middel nie," het Roux gesê.
Ao. Hilton Botha, hoofondersoekbeampte, het vroeër getuig dat 'n boks testosteroon en naalde in 'n boks onder 'n TV in Pistorius se huis gevind is.
Pistorius word daarvan beskuldig dat hy sy vriendin, die model Reeva Steenkamp, op Valentynsdag vermoor het.
Roux het gesê die polisie moet 'n apteker vra om die middel so gou as moontlik te toets.
"Dit is ingeneem en ons doen toetse," het Botha, wat deur Roux onder kruisverhoor geneem is, gesê.
Botha getuig vir die staat, wat Pistorius se borgtog teenstaan.
Pistorius het nog nie formeel gepleit nie, maar het in 'n beëdigde verklaring ontken dat hy Steenkamp vermoor het.
– Volg Nuus24 op Twitter