Terugslag vir Joost
2011-07-28 07:02
Johannesburg – Joost van der Westhuizen ly wél aan ’n fatale motorneuronsiekte (MNS) en het ’n 80%-kans om twee tot vyf jaar te lewe.
Dít is vandeesweek in ’n verklaring deur dr. Jody Pearl, ’n neuroloog by die Sunninghill-hospitaal in Sandton, bevestig.
“Joost van der Westhuizen is deur dr. Erik Pioro, ’n kenner in motorneuronsiekte by die neurospier-eenheid van die Cleveland-hospitaal, ondersoek,” het Pearl gesê.
Van der Westhuizen en Pearl het verlede week na dié hospitaal in die deelstaat Ohio in Amerika vertrek en vandeesweek teruggekeer.
“Pioro het bevestig dat Joost wel amiotrofiese laterale sklerose (ALS) het, wat hom ’n 80%-kans gee op ’n oorlewingstydperk van twee tot vyf jaar,” het Pearl gesê.
Luidens die mediese handboek The Merck Manual is ALS die algemeenste soort MNS. Dit staan ook bekend as Lou Gehrig-siekte.
ALS onderbreek die seine van die brein na die willekeurige spiere, beïnvloed die diafragma en pasiënte in ’n gevorderde stadium sukkel met hul asemhaling.
Die simptome begin gewoonlik in die arms of bene.
In Mei is berig dr. Henry Kelbrick, ’n jare lange vriend en huisdokter van Van der Westhuizen, het ’n kragvermindering in sy regterarm opgemerk.
Van der Westhuizen het dr. Pieter Kritzinger, ’n Pretoriase neuroloog, en Pearl besoek, wat albei voorlopig MNS by hom gediagnoseer het.
Hy is plaaslik aan ’n reeks toetse en medikasie onderwerp waarop hy nie gereageer het nie.
Van der Westhuizen is van 19 tot 21 Julie aan ’n reeks hoogs gespesialiseerde ondersoeke onderwerp wat die oorspronklike diagnose bevestig het.
“Spanning kan dit (MNS) vererger of die toestand bevorder,” het Pearl gesê.
Luidens ’n berig in Rapport het Van der Westhuizen reeds die gebruik van sy een hand verloor.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger