Terre'Blanche se geslagsdele was ontbloot – getuie
2011-10-14 13:37
Ventersdorp – Die eerste persoon wat die lyk van die vermoorde AWB-leier, Eugene Terre'Blanche, gesien het, sê sy lyfband was los en sy geslagsdele was oop.
Die eerste ding wat Robert van Heerden, paramedikus, gesien het toe hy in die slaapkamer kom, was 'n plas bloed op die grond, het die rondgaande hof op Ventersdorp Vrydag gehoor.
Toe Van Heerden sy flitslig in die kamer rondbeweeg, het hy bloed van die bed op die grond sien drup, asook bloed op die gordyne en mure.
Hy het vir 'n pols gevoel en besef Terre'Blanche is dood.
Van Heerden het gesê die lyk het afgekoel en dat hy nie kon sê vir hoe lank Terre'Blanche daar gelê het nie.
Hy het gesê hy het nie die lyk geskuif nie.
'n Flitslig is gebruik omdat die ligskakelaar stukkend en die plaashuis donker was.
Chris Mahlangu en die minderjarige word daarvan beskuldig dat hulle Terre'Blanche op sy plaas verlede jaar in 'n loondispuut vermoor het.
Albei het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, huisbraak en poging tot roof met verswarende omstandighede.
Die verhoor is tot Maandag uitgestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA