Terre’Blanche-saak uitgestel
2010-06-11 02:15
Ventersdorp – Chris Mahlangu, wat verdink word van die moord op die ontslape AWB-leier Eugene Terre’Blanche, sal nog ‘n maand moet wag voordat hy sal hoor of hy borgtog sal ontvang.
Mahlangu se saak is Donderdag in die landdroshof in Ventersdorp uitgestel tot 14 Julie.
Staatsaanklaer George Baloyi het aan die hof gesê dat hy oorweldigende bewyse teen Mahlangu het.
Baloyi het volgehou dat Mahlangu ‘n vlug-risiko inhou en nie borgtog toegestaan moet word nie. Hy het ook gesê dat die misdaad ‘n skedule ses-oortreding is, omdat dit glo vooraf beplan is.
Die hof het vroeër gehoor dat Terre’Blanche glo saam met Mahlangu en die 15-jarige verdagte alkohol gekoop het en toe na sy plaas buite Ventersdorp gegaan het.
“Ons het bewyse van die ondersoek beampte, Tsietsi Mano, dat die verdagte skuld erken het en aan ander vertel het dat hy Terre’Blanche vermoor het. Die verdagte het die polisie gebel en gesê dat hy die moord gepleeg het.
“Die twee verdagtes het die polisie na die moordtoneel geneem en vir hulle gewys waar die daad gepleeg is,” het Baloyi gesê.
Volgens Baloyi het die twee verdagtes probeer om Terre’Blanche se bakkie te steel en sou hulle daarin geslaag het, sou hulle verdwyn het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA