Tenderbedrog glo bewys teen Malema
2011-10-31 07:00
Kaapstad. - Die Valke het glo bewyse van tenderbedrog gevind in hul ondersoek na die sakebelange van Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga.
Die ondersoek is al ’n geruime tyd aan die gang, het kol. McIntosh Polela, Valke-woordvoerder, gister bevestig.
Hy wou egter nie uitwei oor ’n berig in die Sunday Independent dat daar afgekom is op bedrog nie.
“Ons gee nie vorderingsverslae oor ondersoeke nie.”
Die Sondagkoerant berig dat dit nie langer ’n kwessie is van “of” nie, maar eerder ’n kwessie van “wanneer” Malema voor die hof gesleep gaan word.
Die Valke het vroeër vanjaar met die ondersoek begin en kyk onder meer na Malema se Ratanang-trust.
Dié trust word na bewering gebruik om omkoopgeld te kanaliseer.
Die Burger het Sondag verneem dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) ook al genader is om die Valke met die ondersoek te help.
Na wat verneem word, is die NVG se batebeslagleggingseenheid ook betrokke.
Adv. Mthunzi Mhaga, NVG-woordvoerder, het egter enige NVG-ondersoek teen Malema ontken.
“Sover ek bewus is, is daar geen ondersoek (teen Malema) nie, ook nie deur die NVG se batebeslagleggingseenheid nie.”
Malema was nie gister beskikbaar vir kommentaar nie.
Intussen het mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, glo Vrydag na Malema gekap.
Mthethwa, wat Malema nooit by name noem nie, het in die ANC se weeklikse nuusbrief gesê daar is nie plek in die beweging vir “armchair revolutionaries” nie.
“Hierdie is mense wat, terwyl hulle deel is van die (drieparty-) alliansie, alles sien wat verkeerd is met die alliansie en in plaas daarvan om die foute reg te stel, gooi hulle vloermoere soos bedorwe brokkies.”
Mthethwa het gesê mense in die alliansie moet hulle gedra soos “ware revolusionêre wie se doelwit is om die wêreld ’n beter plek te maak”.
Mthethwa het voorts gesê die ANC se voorgangers het nie die vlamme van konflik in die gemeenskap of in die party aangeblaas nie.
“Hulle het gestaan vir eenheid en hul doel was om die nasionale diskoers te stimuleer en te lei sonder om verlei te word (deur die media) of om desperaat te word om koerantopskrifte te behaal.”
Mthethwa het gesê dié wat onmin saai en eensgesindheid probeer ondermyn, doen dit om meer revolusionêr te lyk terwyl hulle eintlik sonder gesag is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger