Tender vir skool-werkboeke teruggetrek
2009-12-11 12:03
Alet Rademeyer
Johannesburg - Die departement van basiese onderwys het besluit om ’n tenderproses vir die ontwikkeling van werkboek-pakkette vir gr. 1 tot 6 te staak en van voor af te begin.
Die sowat 12 miljoen pakkette moes skole reeds in Februarie volgende jaar bereik het as deel van die onlangs aangekondigde hersieningsplanne vir die toepassing van die kurrikulum.
Dit is ook deel van die regering se fokus op die verbetering van leerlinge se geletterdheid- en gesyferdheidsvaardighede.
Die DA het die departement se besluit beskryf as ’n skandaal.
Junita Kloppers-Lourens, DA-skadu-minister vir onderwys, het gesê leerlinge gaan nou vir ’n groot deel van die jaar nie die boeke hê nie.
Volgens haar is die vertraging in die departement presies hoekom Suid-Afrika 107de uit 133 lande is volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum se indeks vir mededingendheid.
Die tender vir die aanstelling van ’n diensverskaffer of instelling om die pakkette te ontwikkel is op 13 November net in die Staatskoerant geadverteer en het op 27 November gesluit.
Luidens ’n departementele verklaring het dit “duidelik geword dat die primêre doelwit om gehalte-materiaal aan skole te versprei...nie bereik sou word as met die tender voortgegaan is nie”.
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het beslis ’n nuwe proses moet gevolg word met ’n “realistiese tydraamwerk” sodat verseker kan word dat elke kind van gr. 0 tot 6 ’n werkboek kan kry.
Motshekga is tevrede met die gehalte van die gr. 0-materiaal en het opdrag gegee dit moet betyds vir volgende jaar versprei word.
Dr. Granville Whittle, departementele woordvoerder, het by navraag gesê 25 instellings het getender waarvan nie een “uitstaande” was nie.
Prof. Sarah Gravett, dekaan van opvoedkunde by die Universiteit van Johannesburg (UJ), meen dit is beter dat die departement seker maak die gehalte van die materiaal is goed eerder as wat ’n proses afgejaag word wat nie tot voordeel van skole of leerlinge sal wees nie.
’n Ingeligte bron wat anoniem wil bly, het aan Beeld gesê gegewe die kort tydjie wat die tender geadverteer is, kan bespiegel word of die departement nie dalk reeds ’n instelling vir die werk in die oog gehad het wat nie die mas kon opkom nie.
“Dit is egter verblydend dat die minister nie gehuiwer het om die proses te staak nie. Dit is immers R524 miljoen wat aan die pakkette bestee gaan word.”
- Beeld