Telkom-hoë pleeg selfmoord
2009-10-09 07:02
Charles Smith
Bloemfontein. – Die hoof van veiligheid en ondersoeke van Telkom, wat sowat twee maande gelede verdwyn het, het vermoedelik in Alaska selfmoord gepleeg.
Chris Roos (40) moes op 1 Oktober in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn in verband met ’n aanklag van molestering.
Mense na aan hom reken die verleentheid van die aanklag was net te veel vir hom.
Sy familie en vriende het dié week geskok verneem dat hy op 24 September in ’n hotelkamer in Anchorage, Alaska, dood gekry is.
Die openbare lykskouer daar het sy suster, me. Rika van Rensburg, dié week gebel omdat niemand die lyk opgeëis het nie.
Na verneem word het Roos in Augustus ’n boodskap op sy videokamera in sy huis in Bloemfontein gelos en al sy persoonlike items, soos sy selfoon, ID, motorsleutels en ’n testament nagelaat.
Sy gewese vrou, Ansonet, moes sy bedanking glo op 1 Oktober gaan indien.
Mev. Roos sê sy is Woensdag van sy dood ingelig.
“Jy kon nie ’n beter man en pa as hy kry nie.
“Hy het in dokumente wat hy vir my gelos het, gesê die egskeiding was die grootste fout wat hy gemaak het. Ek glo ons kon weer bymekaar kom. Ons het die laaste tyd baie goed oor die weg gekom.”
Van Rensburg het by navraag gesê haar broer het nie “verdwyn” nie.
“Ek kan bevestig Boetie is dood. Ek onderhandel nou om die lyk terug te kry. Ek voel verbitterd. Nee, nie teenoor hom nie. Ek is stukkend. Ek het my pa, Hannes, in Desember verloor en nou Boetie.”
- Beeld