Tekort aan voorraad by staatshospitale verwag
2011-11-24 10:14
Johannesburg – Mediese verskaffers het gedreig dat hulle nie meer voorrade aan staatshospitale gaan stuur nie, het ‘n koerant berig.
Die dreigement kom nadat die Gautengse departement van gesondheid daarin misluk het om meer as R300 miljoen se skuld te betaal.
Daaglikse voorrade wat noodsaaklik is om dienste in hospitale te lewer sluit handskoene, spuite, naalde en steke in, het The Star berig. Dié voorrade sluit ook noodsaaklike toestelle vir TB en MIV in.
Die aflewering van diagnostiese kankergereedskap sal ook na verwagting gestop word. Masjiene soos skandeerders en ventilators kan later ook dié voorbeeld volg.
Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) – wat lede verteenwoordig wat 80% van produkte en toestelle verskaf wat by staatshospitale gebruik word – het onthul dat die departement van gesondheid meer as R300 miljoen teen die einde van verlede maand aan lede geskuld het, het die berig gesê.
Sommige fakture dateer terug na 2005 en verskil tussen R25 miljoen en R50 miljoen per maatskappy.
Simon Zwane, woordvoerder vir die Gautengse departement van gesondheid, sê wanbetaling word deur probleme met kontantvloei veroorsaak. Hy sê die departement het ou skuld wat sedert 2009 nie betaal is nie.
Hy sê die departement het tussen R200 miljoen en R300 miljoen per maand aan verskaffers betaal.
Volgens Zwane sal die departement van finansies se belofte om die departement van gesondheid met minstens R200 miljoen te befonds, minder druk veroorsaak.
Marius Malherbe, hoof van die SAMV-taakmag, sê die probleem kan verskaffers van die openbare sektor laat wegdryf.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA