Tekort aan swart gegradueerdes kwel
2012-10-24 17:50
Johannesburg – 'n Tekort aan swart gegradueerdes in mediese beroepe dui op 'n dieper probleem met regstellende aksie, het AfriForum Jeug Woensdag gesê.
"Die aantal van spesifiek swart dokters wat nie in verhouding is met die aantal wat as eerstejaars tot mediese skole toegelaat word nie, is 'n aanduiding van die probleem," het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter, gesê.
Dít kom nadat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, Dinsdag sy kommer uitgespreek het dat die teiken vir die aantal swart gegradueerdes met skaars mediese vaardighede nie behaal word nie, ongeag die departement se subsidies.
Nzimande het tydens 'n vergadering met die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) gesê daar sal nie teen 2014 genoeg gegradueerdes on skaars velde wees as wat verwag is nie.
Sama het gesê hy is bekommerd dat die aantal swart dokters wat gradueer, nie in verhouding is met die aantal swart eerstejaar-studente nie.
Die druipsyfer onder swart studente is ook baie hoog, het die vereniging gesê.
"Die hoë druipsyfer onder veral swart studente kan aan die obsessie met ras wat daarna lei dat studente streng volgens rasseteikens toegelaat word, toegeskryf word," het Oberholzer gesê.
"Nzimande eerder belê in die potensiaal van studente wat uit swak sosio-ekonomiese toestande kom deur middel van oorbruggingskursusse.
"’n Kopskuif moet gemaak word oor die verteenwoordiging van swart studente in sekere beroepsrigtings."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA