Tehuis-brand: Families steeds gesoek
2010-08-04 12:13
Johannesburg – Die name van sommige van die slagoffers van die brand by die Pieter Wessels-tehuis in Nigel is nog nie bekend nie omdat familielede nog nie bevestig het of hul geliefdes veilig is nie.
“Ons het begin om DNS-toetse op die lyke te doen maar ons wag nog vir sommige van die slagoffers se families om na vore te kom,” het polisie in Gauteng gesê.
Volgens adjudant-offisier Tommy Tomlinson is daar nog ses slagoffers wie se families nog kontak moet maak met owerhede om te bevestig of hul geliefdes die brand oorleef het.
Die rekords van die tehuis is tydens die brand vernietig, wat bydra tot die feit dat daar nog nie met familielede kontak gemaak is nie.
Volgens Tomlinson het baie van die bejaardes ook nie gereeld hul gesinne gesien nie.
Ongelukkig is die harde waarheid dat van die bejaardes se gesinne bitter min kontak met hulle gehad het,” het Tomlinson gesê.
Tot dusver is sewe van die slagoffers uitgeken en is daar 11 ander wat geïdentifiseer moet word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA