Teazers wéér in die sop
2009-10-08 12:30
Susan Cilliers
Johannesburg – Vroue wat hul klere uittrek in die advertensiebedryf mag geobjektifiseer word, maar nie hulle boude wys nie.
Dit was die bevinding wat die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde van Suid-Afrika (GRS) Dinsdag gemaak het toe dit die ontkleeklub Teazers beveel het om ‘n advertensiebord in Rivoniastraat in Sandton, af te haal.
Dié bord beeld ‘n vrou se kaal boude uit met die bewoording: “Nothing wrong without a thong!".
Die GRS het gesê hoewel vroue in die media nie meer as net moeders en eggenote uitgebeeld word nie en selfs al word hulle duidelik in die wettige seksbedryf beliggaam, het Teazers dié keer te ver gegaan.
"Deesdae word vroue as leiers met gelyke regte op elke vlak van die samelewing uitgebeeld. As naaktheid in goeie smaak en met betrekking tot die advertensie se boodskap uitgebeeld word, is dit nie noodwendig stereotipering van geslag nie”, het die GRS gesê.
Volgens die GRS se voorwaardes is dit aanvaarbaar dat Teazers winsgewend is deur hulle klante toe te laat om 'n ontkleedanseres te objektiveer. Met dit in gedagte sê die GRS dat ‘n kaalfoto van ‘n aantreklike danser wel regverdig kan word, maar dat dit in dié advertensie nie die geval is nie.
“In hierdie geval het die foto niks te make met die bemagtiging van vroue of om hulle van stereotipes te bevry nie.”
Volgens die GRS doen hierdie spesifieke advertensiebord, presies die teenoorgestelde.
“Dié advertensiebord beeld die model as net ‘n 'stukkie vleis' uit. Dit is neerhalend teenoor vroue,” sê die GRS.
Vanessa Smith het die klag by die GRS ingedien. Sy sê die advertensiebord is nog meer onvanpas omdat dit naby ‘n skool opgerig is.
Volgens Smith is advertensies soos dié waar kinders die verkeerde boodskap rondom die samelewing se idees van waarna vroue moet streef, kry.
- Beeld