Teazers terg nie vir Semenya
2009-09-30 11:47
Magdel Fourie
Johannesburg - 'n Teazers- advertensiebord wat sê dat dié ontkleeklub se dansers "nie geslagstoetse nodig het nie", het niks te doen met Caster Semenya nie.
Só het Lolly Jackson, eienaar van Teazers, gesê.
Hy het gesê dié veldtog is ontwerp om dit duidelik te maak dat werknemers van dié ontkleeklub 100% vrou is.
'n Amptelike klag is by die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde (ASA) ingedien oor dié advertensiebord in Rivoniastraat in Sandton.
Op die advertensiebord is 'n kaal vrou wat in 'n uitlokkende posisie op haar rug lê, met die bewoording: "Geen geslagstoetse nodig" oor die vrou se lyf.
'n Storm van omstredenheid het onlangs losgebars oor Semenya se geslag, ná haar deelname aan die Wêreldkampioenskappe in Berlyn.
Volgens Jackson is die advertensieborde drie weke gelede opgerig en die bestelling dat dié borde opgerig moet word, is twee weke vroëer geplaas.
"Dit het niks met Semenya te doen nie. Die bedoeling was nooit dat dit enige betrekking op Semenya het nie," het Jackson gesê.
"Ek het lank voor die hele Semenya-sage aan die advertensie gedink. Dit het net heeltemal anders uitgedraai omdat topbeamptes van Atletiek Suid-Afrika vir die land gejok het. Dit is toe alles uit verband geruk is."
Corné Koch, kommunikasiebestuurder, het bevestig dat 'n klag op 19 September by hulle ingedien is.
Volgens die klagte is die advertensiebord "swak smaak" en " objektifiseer " dit vroue.
Die klag word ondersoek en 'n bevinding sal binne 30 dae uitgereik word.
Jackson het reeds 'n afskrif van die advertensiebord aan ASA gegee.
- Beeld
- Lees die volledige berig oor Jackson se reaksie op die advertensiebord hier, en gee jou mening in die kommentaar-blok hieronder.