Teazers-baas kap terug
2009-09-30 15:18
Kaapstad - Lolly Jackson, eienaar van die Teazers-ontkleedansklubs, het teruggekap ná klagtes oor dié klub se nuutste advertensiebord.
Jackson het gesê hy oefen bloot sy grondwetlike reg van vryheid van uitdrukking met dié advertensiebord uit.
"Ek het die reg van vryheid van uitdrukking deur die pers of ander media... Ek daag enigiemand uit om my te wys wat verkeerd is met die advertensiebord vir my reg van vryheid van uitdrukking om só bevraagteken te word."
Sean Newman, woordvoerder van Teazers, het ASA daarvan beskuldig dat hy nie sy reaksie op die klagtes gelees het voor 'n amptelike ondersoek ingestel is nie.
Een van die klaers het gevoel dat Teazers die spot dryf met die atleet Caster Semenya.
"Dié advertensiebord het die keer te ver gegaan. Hy het 'n mens beledig."
'n Amptelike klag is by die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde (ASA) ingedien oor dié advertensiebord in Rivoniastraat in Sandton.
Op die advertensiebord is 'n kaal vrou wat in 'n uitlokkende posisie op haar rug lê, met die bewoording: "Geen geslagstoetse nodig" oor die vrou se lyf.
'n Storm van omstredenheid het onlangs losgebars oor Semenya se geslag, ná haar deelname aan die Wêreldkampioenskappe in Berlyn.
Jackson het gesê dié veldtog is ontwerp om dit duidelik te maak dat werknemers van dié ontkleeklub 100% vrou is.
"Ek is moeg daarvoor dat my handelsnaam aangeval word vir skadelose advertering wat almal kan doen solank die naam Teazers nie daaraan gekoppel is nie," het Jackson in 'n verklaring gesê.
Jackson hou voet by stuk dat dié advertensie voor die Semenya-sage geskep is.
"Dit is blote toeval. Alles is uit verband geruk. Teazers probeer bloot gewaardeerde kliënte verseker dat ons nie tweeslagtige vroue het nie. Dit is 'n algemene verskynsel in die bedryf waarin ons is," het hy gesê.
"By Teazers wil ons 100% vroue vier en dít is die waarborg wat ons aan ons kliënte gee. Ons probeer nie mense met ons advertensies mislei nie."
– Nuus24