'Te veel wittes en Indiërs' werk vir Manyi
2011-03-16 08:50
Kaapstad - Jimmy Manyi, omstrede kabinetswoordvoerder en hoofbeampte van die regeringskommunikasiediens (GCIS), het sy woorde Dinsdag mooi getel voor hy verklaar het daar is ’n “oorverteenwoordiging” van wit mense en Indiërs in sy departement.
Hy het op ’n voorlegging oor die GCIS se strategiese plan vir die boekjaar aan LP’s verduidelik die GCIS se vernaamste taak is om die regering se suksesse te verwoord en inligting geredelik beskikbaar te maak.
Volgens hom moet dié organisasie aan diensbillikheidsteikens voldoen en bly daar uitdagings.
“Ons sit op senior bestuursvlak...en nou moet ek my woorde mooi kies sodat ek nie in die moeilikheid beland nie... met ’n oorverteenwoordiging van Indiërs; ons teiken is 3% en ons sit met 15,5%.
“Wat betref swart mense: Hulle is 76% van die bevolking, maar by die GCIS sit ons met ’n 56%-verteenwoordiging.
“Bruin mense is nasionaal 11%, ons het 10,9%, so dinge is amper eksieperfeksie daar. Wittes: nasionaal is hulle 12%, maar by die GCIS sit ons met 17,4% en hulle is dus ook oorverteenwoordig,” het Manyi verduidelik.
Volgens sy voorlegging bestaan die senior bestuursvlak uit 46 personeellede en moet daar aan absolute diensbillikheidsteikens op grond van die land se ekonomies aktiewe bevolking voldoen word.
Hy het tjoepstil gebly ná vrae van Niekie van den Berg (DA) oor sy omstrede uitlating oor die “oorkonsentrasie van bruin mense” in die Wes-Kaap.
- Die Burger