'Te veel wapens in SA' - Zuma
2009-10-07 16:52
Pretoria - Daar is baie wapens wat in Suid-Afrika rondlê, het president Jacob Zuma gesê.
“Baie mense word doodgemaak weens dié wapens,” het Zuma tydens die bekendstelling van die presidensiële blitslyn gesê.
Hy het gesê sodra misdadigers ‘n wapen uithaal sal hulle skiet om dood te skiet.
"’n Polisieman het drie keer na ‘n misdadiger geskiet om sy wapen neer te lê, maar hy is in elk geval doodgeskiet,” het hy gesê met verwysing na kapt. Carl Scheepers wat Saterdagaand in Brooklyn doodgeskiet is.
Zuma het gesê daar word in ander lande se huise ingebreek, gesteel en gevlug, maar in Suid-Afrika breek die misdadigers in en wag vir die eienaar om huistoe te kom.
Hulle eis daarna die kluis se sleutels en indien die eienaar weier, word hulle doodgemaak,” het ‘n bewoë Zuma gesê.
“Ons kan nie toelaat dat onskuldige mense doodgemaak word nie.”
Zuma het verlede maand met polisiekommissarisse van reg oor die land vergader en ‘n beroep op die polisie gedoen om dood te skiet.
“Ek dink die bedoeling is duidelik wanneer ‘n misdadiger sy wapen uithaal,” het Zuma tydens daardie vergadering gesê.
Dit is die polisie se verantwoordelikheid om die publiek te beskerm, het hy bygevoeg. Wanneer hulle lewens en die lewe van onskuldige mense egter bedreig word, moet ‘n ander alternatief oorweeg word.
- Sapa