Taxi’s nié dodelikste voertuie op die pad
2012-01-18 12:00
Johannesburg – Padgebruikers kan net so maklik in fietsongelukke as in taxi-ongelukke sterf, het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) Woensdag gesê.
Kevin Lebone, woordvoerder vir SAIRV, sê elk van hierdie scenarios is verantwoordelik vir 2% van padsterftes, volgens die navorsing gebaseer op syfers van die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) van 2009.
Die bevinding is gemaak in ‘n studie deur die SAIRV wat volgende week bekendgemaak word.
Die studie het ook gevind dat vir elke padsterfte in ‘n taxi, is 21 mense in ongelukke waarby motors betrokke was dood.
Motorongelukke is verantwoordelik vir net minder as die helfte van padsterftes, ligte afleweringsvoertuie en bakkies vir ‘n vyfde en vragmotors en ander nie-spesifieke voertuie is verantwoordelik vir byna ‘n tiende van padsterftes.
In 2009 was daar 27 sterftes per 10 000 taxi’s, drie keer hoër as vir motors.
“Die instituut het gesê dat voertuiggetalle die relatiewe toename in motorongelukke kan verduidelik,” het Lebone in ‘n verklaring gesê.
Byna ‘n kwart van padsterftes het tussen 18:00 en 21:00 plaasgevind en 60% het oor naweke plaasgevind.
Hierdie was tye wat openbare vervoer nie so aktief was nie, het hy gesê.
Die studie het ook getoon dat, tydens 2009, sowat 60% van bestuurders wat op die paaie dood is onder die invloed van alkohol was.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA