Taxi’s dobbel met dood
2011-12-24 08:02
Tisha Steyn
Beaufort-Wes – Te midde van ’n snelstygende dodetal op die land se paaie, word menselewens bedreig deur taxibestuurders wat sonder om te rus tussen die Wes- en Oos-Kaap jaag om mense by hul Kersbestemming te kry.
Talle taxi’s was sedert begin Desember betrokke in noodlottige motorongelukke in dié twee provinsies. Landwyd het sowat 800 mense vandeesmaand reeds op die land se paaie gesterf.
Die provinsiale regering en verkeersowerhede het op die vooraand van die Kersnaweek gewaarsku dié toedrag van sake sal nie geduld word nie. Daar is reeds begin om teen ooglopend moeë taxibestuurders op te tree, het Kenny Africa, provinsiale verkeershoof, gesê.
Hein Rust, hoof van rampbestuur in Beaufort-Wes, het gister gesê taxi-bestuurders wat passasiers van Kaapstad na die Oos-Kaap vervoer en hulle die volgende oggend terughaas om nog passasiers op te laai, skep ’n probleem.
Rust het gesê die paaie is boonop baie besig. “Tussen 10:00 en 11:00 is tussen 600 en 700 voertuie by die weegbrug by die rampbestuursentrum buite Beaufort-Wes getel.”
Volgens Rust het drie ongelukke gisteroggend in die omgewing van Beaufort-Wes plaasgevind.
Ses mense is lig beseer in ’n botsing tussen twee voertuie op die N1 tussen Beaufort-Wes en Leeu-Gamka.
Twee ongelukke op die pad van Aberdeen na Beaufort-Wes het nog ’n slagoffer geëis. “Een mens is dood, een is ernstig beseer en nog vier het minder ernstige beserings opgedoen toe ’n bakkie omstreeks 08:00 op die Aberdeenpad gerol het,” het Rust gesê.
“Een van twee mans in ’n minibus-taxi is ernstig beseer toe dit op dieselfde pad omgeslaan het.”
Die toestand van al die pasiënte wat ná Woensdag se drie ongelukke in hospitale opgeneem is, is stabiel, het Nadia Ferreira, kommunikasiebeampte van die departement van gesondheid in Eden, gister gesê.
Dertien pasiënte wat die ongeluk buite Prins Albertweg tussen ’n minibus-taxi en ’n Toyota Corolla oorleef het, is in hospitale op George, Worcester en Laingsburg. Siphosetho Sithlea (8) van Kraaifontein het nie oorleef nie.
Die vier insittendes van die Toyota Corolla, wat dood is, is D.V. Ncqakaza (44) en sy vrou, N.A. Ncgakaza (43), D.D. Abrahams (21) en P.S. Mbenengo (42) van die Paarl.
Ses mense wat die botsing tussen ’n VW Golf en ’n VW Polo 35 km buite Beaufort-Wes oorleef het, word in die George-Mediclinic, die Rooi Kruis-kinderhospitaal en die Tygerberg-hospitaal behandel. Die name van die twee mans in die Golf wat gesterf het, is nog nie bekend gemaak nie.
Een van die ses mense wat in ’n motorongeluk 3km buite Heidelberg beseer en in die Riversdal-hospitaal opgeneem is, is na die George-hospitaal oorgeplaas. Die ander vyf is ontslaan.
- Die Burger