Taximan appelleer teen weiering van borg
2011-12-14 15:30
Kaapstad – Die taxibestuurder Jacob Humphreys, wat vroeër vandeesweek skuldig bevind is op 10 aanklagte van moord, sal teen die weiering van sy borgtog appelleer, het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) Woensdag gesê.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG in die Wes-Kaap, het gesê die NVG het 'n kennisgewing ontvang dat Humphreys se regspan Donderdag om die herinstelling van sy borgtog gaan aansoek doen.
"Ons sal die aansoek teenstaan. Ons glo dat hy tot met sy vonnisoplegging agter tralies moet wees."
Humphreys is Maandag op tien aanklagte van moord en vier van poging tot moord skuldig bevind nadat hy op 25 Augustus verlede jaar oor ’n spooroorgang in Buttskopstraat, Blackheath, gery het. Sy taxi het voor ’n aankomende trein beland en tien kinders is dood, het Die Burger berig.
Hy is ná die uitspraak in aanhouding geneem en word in Februarie aanstaande jaar gevonnis.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA