Taximan Kersfees in die tronk
2011-12-15 12:45
Kaapstad – Die taxibestuurder wat vandeesweek op 10 aanklagte van moord skuldig bevind is, sal agter tralies bly omdat sy regsverteenwoordigers versuim het om 'n regter te kry om sy aansoek om appèl teen die terugtrekking van sy borgtog aan te hoor.
"Die saak was nie op die hofrol nie. Dit lyk asof sy regsverteenwoordigers versuim het om reëlings te tref vir 'n regter," het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, gesê.
"Hy sal vir Kersfees in die tronk wees."
Jacob Humphreys is Maandag skuldig bevind aan die moord op tien kinders nadat sy minibustaxi voor ’n trein beland en die kinders gesterf het.
Die Wes-Kaapse hooggeregshof sou Donderdag Humphreys se aansoek om verlof tot appèl aanhoor om teen die terugtrekking van sy borgtog te appelleer, het Die Burger berig.
Regter Robert Henney moet eers verlof aan Humphreys toestaan voordat die appèlaansoek aangehoor kan word.
“Ons het die hofstukke vandag (Woensdag) geliasseer en dit is by die griffier,” het Humphreys se regsverteenwoordiger, adv. Johann Engelbrecht SC, Woensdag gesê.
Henney het Humphreys (55) Maandag op tien aanklagte van moord en vier van poging tot moord skuldig bevind. Sy borgtog is daarna ingetrek omdat sy posisie weens die erns van die aanklagte verander het.
Humphreys is skuldig bevind nadat hy op 25 Augustus verlede jaar oor ’n spooroorgang in Buttskopstraat, Blackheath, gery het. Sy taxi het voor ’n aankomende trein beland en die kinders is dood.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA