Taxibestuurder vas ná hy metropolisiebeampte omry
2010-12-24 20:09
Johannesburg – ‘n Taxi-bestuurder is in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n metropolisiebeampte in Soshanguve, noord van Pretoria omgery het, het die metropolisie Vrydag in Tshwane gesê.
Volgens William Baloyi, ‘n woordvoerder, het ‘n Toyota Venture Donderdag omstreeks 20:00 oor ‘n 31-jarige beampte gery.
“Die bestuurder van die voertuig het nie na die ongeluk gestop nie,” het hy gesê.
Metropolisiebeamptes het die man agternagesit. Hy het uit sy motor gespring en probeer weghardloop, maar is gearresteer.
“Die taxibestuurder was onder die invloed van alkohol en het nie ‘n geldige bestuurderslisensie gehad nie.”
Die metropolisiebeampte is na die Akasie-private kliniek geneem waar hy tans herstel.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA