Taxibestuurder in hof ná hy vrou sleep
2011-09-14 10:00
Johannesburg – Die Johannesburgse advokaat wat Dinsdag deur 'n taxi in Lonehill omgery en meters ver gesleep is, is steeds in 'n kritieke toestand in die hospitaal, het haar ma Woensdag gesê.
Die taxibestuurder verskyn Woensdag in die Randburg-landdroshof.
"In die stadium fokus ons net op Kim se herstel. Bid asseblief vir haar," het Patricia McCusker gesê.
Sy het gesê haar dogter se toestand is steeds kritiek en dat sy in die intensiewe sorgeenheid by Life Fourways in die noorde van Johannesburg behandel word.
Kim McCusker (25) en Lawrence Grobler, haar verloofde, het Dinsdagoggend om 06:30 na die gimnasium gery toe ‘n taxi teen hul bakkie bots.
McCusker se verloofde het uit die motor geklim om die skade te ondersoek en om kontak- en versekeringbesonderhede met die taxibestuurder uit te ruil, maar die bestuurder het aggressief geword, het die Lonehill Inwonersvereniging se hoof, Rob Gillespie, gesê.
Die taxibestuurder het later beweer McCusker se verloofde het hom aangerand en dit is hoekom hy weggery en McCusker getref het, het Gillespie gesê.
Die familie het gesê hulle gaan 'n klag van poging tot moord by die polisie aanhangig maak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA