Taxi-staking raak gewelddadig
2011-03-14 15:23
Johannesburg – Polisie het met rubberkoeëls op betogers geskiet nadat taxi-betogings in Kaapstad gewelddadig geraak het, het ‘n woordvoerder gesê.
Altesaam nege mense is weens openbare geweld in hegtenis geneem nadat stakers ‘n Golden Arrow-bus in die Nfuleni-gebied met klippe gegooi het, het ao. November Filander gesê.
Volgens hom is daar geen beserings aangemeld nie.
Een persoon is in Nyanga in hegtenis geneem terwyl agt ander in die Nfuleni-gebied in hegtenis geneem is.
Die vakverbond Cosatu het intussen bekend gemaak dat hulle die staking veroordeel.
Pendelaars is Maandag in Kaapstad gestrand terwyl lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi-vereniging (Santaco) gestaak het.
Taxi-bestuurders het begin staak om teen die provinsiale regering te betoog.
“Daar is baie ontevredenheid onder lede in die Wes-Kaap,” het Philip Taaibosch, sekretaris-generaal van Santaco, gesê.
“Dit is die enigste provinsie in Suid-Afrika waar taxi-ondernemers grootliks geteister word,” het hy per telefoon aan Sapa gesê.
Volgens Taaibosch betoog die Santaco-lede teen die formaliteite en die “slordigheid” wat gepaard gaan om lisensies by die provinsiale regering te kry. Hulle is ook ontsteld oor die “drakoniese” verkeerswette.
Die staking sal eindig wanneer die “provinsiale leierskap besluit het dat hul kwessies aangespreek word,” het Taaibosch gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA