Taxi-slagoffer sien uit daarna om weer te werk
2011-12-04 10:58
Johannesburg – Adv. Kim McCusker kan nie wag om terug te keer werk toe nie.
Haar loopbaan is onderbreek toe sy in ’n gru-ongeluk erg beseer is. ’n Taxi het haar 600 m ver gesleep.
Douglas McCusker, haar prokureur-pa, het Vrydag aan Rapport gesê sy sien uit daarna om weer in die hof te werk. Sy verduur steeds baie pyn en word die afgelope week tuis versorg.
McCusker het die land aangegryp toe sy in September tydens waarskynlik ’n padwoede-voorval onder die taxi van Matome Thamage beland het.
Thamage se taxi het teen die bakkie van haar verloofde, Lourens Grobler, gebots en die mans het glo ’n woordewisseling gehad.
Grobler het Thamage glo geslaan, waarna Thamage weggejaag het. Hy het bo-oor McCusker gery terwyl sy tydens die woordewisseling tussen die taxi en die bakkie gestaan het om die skade te bekyk.
Grobler is op klagte van saakbeskadiging en aanranding in hegtenis geneem en Thamage van poging tot moord.
McCusker was tien weke in die hospitaal voordat sy verlede week ontslaan is. Haar ma, ’n verpleegster, sien na haar om.
Haar pa sê: “Kim verduur nog baie pyn, maar sy sterk goed aan. Die pyn is nie so erg soos toe sy in die hospitaal was nie. Sy ondergaan rehabilitasie en dit is ’n lang proses. Die dokters kon nog nie vir ons ’n skatting gee van hoe lank dit gaan neem nie. Sy is baie bly om by die huis te wees.”
Thamage verskyn Maandag weer in die hof en Grobler Donderdag.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport