Taxi-ongeluk: Vrou in kritieke toestand
2011-09-13 16:55
Johannesburg – Dele van die vrou wat meters ver deur 'n taxi gesleep is, se liggaam het geen vel oor nie en sy is in 'n kritieke toestand, het haar pa gesê.
Kim McCusker (25), 'n advokaat, en haar verloofde was op pad na die gimnasium toe die taxi teen hul bakkie gebots het.
McCusker het voor die taxi gestaan, terwyl haar verloofde met die taxibestuurder gepraat het om inligting te kry.
Volgens haar familie het die bestuurder die voertuig op 'n dreigende wyse vorentoe beweeg.
McCusker het toe haar balans verloor en geval, waarna die bestuurder weggery het. Sy was onder die taxi vasgekeer en is meters ver in Lonehill Boulevard in die noorde van Johannesburg gesleep.
"Sy het erge beserings opgedoen, dele van haar liggaam het geen vel op nie. Sy is weens die pyn onder verdowing geplaas en is tans in die teater om die wonde skoon te maak om infeksie te verminder en na ander beserings te kyk," het Douglas McCusker, haar pa, gesê.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter