Taxi-man 'kan niks onthou van treinongeluk'
2011-11-15 09:04
Kaapstad – Jacob Humphreys, die bestuurder van die minibustaxi waarin tien kinders op ’n spooroorgang in Blackheath dood is, kan niks van die ongeluk onthou nie.
Dít is sy kliënt se verweer, het adv. Johann Engelbrecht SC Maandag aan regter Robert Henney in die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê.
Humphreys ontken skuld op tien aanklagte van moord, met alternatiewe aanklagte van strafbare manslag. Hy ontken ook skuld op vier aanklagte van poging tot moord, met die alternatief van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Humphreys het op 25 Augustus verlede jaar oor ’n spooroorgang in Buttskopstraat, Blackheath, gery en voor ’n trein beland.
Tien kinders is dood en vier ernstig beseer.
Die hof sal na verwagting vandag die ongelukstoneel besoek voordat die staat sy saak sluit.
Een van die ooggetuies, Steward Pekeur, het Maandag getuig hoe hy die betrokke oggend heel voor in ’n tou voertuie by die spoorwegkruising stilgehou het. “Toe het die ligte (by die valhekke) al begin flikker. Omdat die ligte rooi was, het ek gestop.
“Iemand het agter my getoet – die persoon wou seker hê ek moes ry.”
Op ’n vraag van adv. Susan Galloway, staatsaanklaer, oor wat hy toe gedoen het, het Pekeur geantwoord: “Nee, ek het bly staan. Ek is geleer dat rooi 'gevaarlik' beteken. Jy bly staan.”
Hy was nog besig om met die insittende langs hom te praat “toe ek meteens ’n taxi van regs agter my sien kom het. Daar was nog ’n gap voor my, en ek het gedink die taxi gaan daar gaan stop.
“Die trein se sirene het klaar afgegaan en toe gaan die ou net oor. Hy gaan toe oor die kruising,” het Pekeur getuig.
“Toe die taxi deur die booms gegaan het, was dit (die valhekke) reeds af.”
Op ’n vraag of die trein gesien kon word, het hy bevestigend geantwoord. “Jy kan die trein sien. Die lig van die trein is hoog.”
In kruisondervraging het Engelbrecht dit aan Pekeur gestel dat sy kliënt net tot op ’n sekere punt – waar hy agter ander voertuie gaan staan het – die oggend se gebeure kan onthou.
Later het Engelbrecht dit ook só aan Henney gestel: “Die beskuldigde onthou niks. Dit is sy verweer.”
Vroeër Maandagoggend het Henney aan Engelbrecht gesê dit is “gesonde verstand” om jou beurt af te wag wanneer jy in ’n tou voertuie staan en wag.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger