Taxi het oor meisie 'gejaag'
2009-08-13 12:02
Pretoria – Die taxibestuurder wat ‘n skoolmeisie doodgery het, het volgens ‘n getuie gejaag en kon die ongeluk verhoed het, het die streekshof in Pretoria Donderdag gehoor.
Hugo Vermaak, ‘n getuie, het aan die hof gesê dat die taxi teen ‘n hoë spoed gery het en dat die bestuurder, Percyval Matji, die rem kon getrap en in die linkerbaan kon inswaai om die ongeluk te voorkom.
Hy het gesê dat die taxi vir die meisie, Bernadine Kruger, getoet het.
Kruger het die flikkerlig van haar bromponie aangeskakel om aan te dui dat sy van die linker- na die regterbaan gaan oorbeweeg om pad te gee vir die taxi.
Maar die taxi het ook in die regterbaan ingery.
Kruger het toe probeer om terug te gaan na die linkerbaan, maar dit was te laat en die taxi het haar getref.
“Sy het deur die lug getrek en voor die taxi beland wat toe oor haar gery het,” het Vermaak in die hof vertel.
Die staat het aangevoer dat Matji oor die 16-jarige gery het terwyl sy in Februarie in Garsfontein oppad was skool toe op haar bromponie.
Matji is oorspronklik aangekla vir strafbare manslag, maar na forensiese ondersoeke is die klag verander na moord.
- Sapa