Taxi-geweld eis drie
2009-12-19 14:51
Johannesburg – Drie mense is dood en een is ernstig beseer in taxi-geweld in Durban, het polisie Saterdag gesê.
Drie mans het glo laat Vrydagaand ‘n taxi-baas van Richmond doodgeskiet, het ‘n polisie woordvoerder van KwaMakutha gesê.
“Die polisie is in kennis gestel en ‘n jaagtog het plaasgevind. Die mans het op die polisie begin skiet en die jaagtog het geëindig toe die polisie begin terugskiet en veroorsaak het dat die mans beheer verloor oor die taxi waarin hulle gery het, het Jeff Wicks van Netcare 911 gesê.
Twee van die mans is dood en ‘n derde is ernstig beseer.
“Brandweermanne en paramedici van Netcare 911 moes lewenskake gebruik om die man uit die taxi te kry.”
“Die man het ‘n kopskoot gehad en moes op ‘n asemhalingsisteem geplaas word voordat hy na die Prince M'shiyeni Memorial hospitaal geneem is, waar hy onder polisie bewaking is,” het Wicks gesê.
Drie sake van moord en een van poging tot moord word ondersoek.
- Sapa