Taxi en voertuig rol ná botsing
2010-02-06 12:28
Johannesburg - Nege mense is beseer nadat die minibus-taxi waarin hulle gery het teen ’n ander voertuig op die N1-snelweg gebots het , het die Johannesburgse paramedici gesê.
Werner Vermaak, ’n ER24-woordvoerder het gesê die ongeluk het naby die Rivoniaweg-afdraai pad plaasgevind.
"Die taxi en die ligte voertuig het gerol nadat hulle glo teen mekaar gebots het,” het hy gesê.
"Die ligte voertuig het op sy dak geland en die taxi op sy sy. Die insittendes moes glo deur die ruite van die taxi breek om uit te kom. Die paramedici het die passasiers aan die kant van die pad gesien sit toe hulle by die toneel opgedaag het.”
Vermaak het gesê die beseerdes is vir veelvuldige snye en kneusplekke behandel.
Die ander voertuig se passasiers het ongedeerd van die ongeluk afgekom.
“Die paaie in die gebied is baie nou weens konstruksiewerk en dit mag ‘n rol in die ongeluk gespeel het,” het Vermaak gesê.
Die verkeer op die N1 het botstil gestaan.
-Sapa