Taxi-bestuurder wat advokaat sleep se verhoor uitgestel
2012-03-30 18:42
Johannesburg – Die Johannesburgse taxibestuurder onder wie se voertuig adv. Kim McCusker meer as 600 m ver gesleep is, se verhoor is Vrydag in die Randburgse landdroshof uitgestel.
Matome Thamage (30) moet weer op 3 Mei in die hof verskyn.
Staatsaanklaer Katlego Mokoena het die hof gevra dat die saak uitgestel word sodat ooggetuies gevind kan word.
"Die staat het 'n paar probleme met die ooggetuies... Daar was baie mense in die taxi en ons is op soek na 'n ooggetuie," het sy gesê.
Oliver Moeti, Thamage se prokureur, het die aansoek teengestaan en aangevoer dat die saak in Februarie uitgestel was om vas te stel of gerugte dat McCusker gesterf het die waarheid is en nie om ooggetuies op te spoor nie.
"Die staat is nie gereed nie en nou wil hulle met hul ondersoek voortgaan... Dit gaan 'n vermorsing van tyd wees en my kliënt se reg op ’n spoedige verhoor gaan hierdeur benadeel word," het Moeti gesê.
Landdros George Andrews het gesê McCusker het nie gesterf nie.
"Die staat sal sy huis in orde moet kry. Ek gee jou vyf weke... Die saak is uitgestel tot 3 Mei sodat die ondersoek gefinaliseer kan word," het Andrews gesê.
Thamage word aangekla van poging tot moord nadat sy taxi op 13 September advokaat Kim McCusker (25) sowat 600 m ver gesleep het nadat hy haar raakgery het.
McCusker was vir twee maande in die hospitaal.
Thamage beweer hy het weggejaag nadat McCusker se verloofde, Louerens Grobler, hom aangerand het. Volgens hom het hy nie besef dat McCusker, wat voor die taxi gestaan het, onder die voertuig vasgekeer was nie.
Hy is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat.
- SAPA