Taxi-bestuurder agt keer oor limiet
2010-10-08 19:49
Kaapstad – ‘n Taxi-bestuurder wat skoolkinders vervoer het, is Vrydagoggend in Kaapstad hegtenis geneem nadat hy agt keer oor die wettige alkohol-limiet was, het verkeersbeamptes in Kaapstad gesê.
Die inhegtenisname het by ‘n padblokkade in Keizergracht in Distrik-6 plaasgevind in ‘n poging om taxi-bestuurders wat kinders in onpadwaardige voertuie vervoer vas te trek.
Die stad se geheime verkeerseenheid het die bestuurder in hegtenis geneem nadat sy asemklikkertoets 0.88mg per 1000 ml asem gemeet het, in vergelyking met die wettige maksimum van 0.10 mg.
“‘n Volwasse passasier in die taxi was ook onder die invloed van alkohol en het onaanvaarbare gedrag getoon het toe hy gekonfronteer is,” het Merle Lourens, woordvoerder vir die stad se verkeersdienste, gesê.
“Die taxi het kinders tussen die ouderdomme van ses en sewe jaar oud vervoer.”
Agttien van die taxi-bestuurders wat kinders vervoer het, het nie geldige bestuurslisensies gehad nie en 11 was sonder ‘n professionele bestuurspermit.
Agt-en-twintig bestuurders is daarvan aangekla dat hulle taxi’s oorlaai is en 12 taxi’s is geskut as gevolg van meganiese foute.
Beamptes het in een VW-Mikrobus gevind dat die agtersitplekke uitgehaal is om addisionele sitplek te skep vir kinders.
In ‘n ander taxi was daar twee tot drie kinders per sitplek.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA