Tavernes brand ná moord
2011-12-18 18:57
Johannesburg – ‘n Groep mense in Tonga het verskeie eiendomme, ter waarde van ‘n geskatte R3 miljoen, aan die brand gesteek om 'n moord te wreek, het die polisie in Mpumalanga Sondag gesê.
Die taverne-eienaar is van die moord op 'n 25-jarige man, wat Saterdag in die vroeë oggendure doodgeskiet is, beskuldig, het lt. kol. Leonard Hlathi gesê.
“Sommige inwoners het na bewering die taverne-eienaar van moord beskuldig en op sy eiendomme toegesak om die moord te wreek,” het hy gesê.
“Hulle het sy huis met klippe bestook en sy twee tavernes en ‘n paar motors aan die brand gesteek.”
Volgens Hlathi is die eienaar van die tavernes, vermoedelik in sy vroeë 50’s, aangehou om ondervra te word in verband met die moord.
‘n Saak van brandstigting en ‘n saak van moord word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA