Talle sterftes op JHB paaie
2009-11-22 13:05
Johannesburg – Vier mense is dood en 8 beseer in ongelukke die naweek op Johannesburg se paaie, het nooddienste gesê.
Volgens Percy Morokane, woordvoerder van die nooddienste, was ‘n bestuurder onder sy motor vasgevang toe dit teen ‘n ander motor gebots het in Malibongwe-rylaan. Die ongeluk het om 21:20 Saterdagaand gebeur.
“Indikasies is dat hy nie sy veiligheidsgordel gedra het nie. Hy is in ‘n baie kritieke toestand.”
Die twee mense in die ander voertuie het kleiner beserings opgedoen en is nie hospitaal toe nie.
In ‘n ander ongeluk, is twee mense net ‘n uur later dood toe hul voertuig omgeslaan het in Nasrecstraat.
Twee ander is na ‘n nabye hospitaal geneem in ‘n kritieke toestand.
Die oorsaak van die ongeluk moet nog bepaal word, het Morokane gesê.
‘n Man is Sondag om 03:30 dood toe sy voertuig op die hoek van Louis Botha-laan en Houghton-rylaan gerol het.
“Die man is op die toneel dood. Dit het ‘n uur geneem vir brandbestryders om sy liggaam uit die motor uit te bevry.”
Later die oggend, om 04:40 is ‘n 32-jarige man dood toe sy kar omgeslaan het op die N1-snelweg net voor die Malibongwe-afrit. Drie ander mense is ernstig beseer en hospitaal toe gejaag.
“Motoriste en voetgangers word aangeraai om gedurende die feestyd versigtig te wees. Om te drink en bestuur of te drink ek loop kan gevolge hê wat nie ongedaan gemaak kan word nie.”
- Sapa