Talle staatshoofde by stylvolle ANC-ete
2012-01-07 22:45
Bloemfontein – Die presidensiële gala-ete vir staatshoofde, ANC-leiers, lede en gaste het Saterdagaand in ‘n reuse-tent vir 1 500 mense afgeskop.
Gaste is met busse aangery na die voormalige Vista Universiteit.
Vyf staatshoofde, onder wie die president van Benin, Thomas Boni, die president van Rwanda, Paul Kagame, die president van Kongo Brazzaville, Denis Sassou Nguesso, die president van Mosambiek, Armando Guebuza en die Zambiese president, Michael Sata, het met ‘n rooi tapyt by die tent ingestap.
Jackson Mthambu, die ANC se woordvoerder, het gesê meer staatshoofde en hooggeplaastes sal deur die nag en Sondag arriveer om die hoof-geleentheid by die Vrystaat-stadion by te woon.
Die premier van die Vrystaat, Ace Magashule, het die gaste by die geleentheid verwelkom.
“Geniet dit, nou is die tyd,” het hy aan sy gaste gesê.
President Zuma het tussen die ander staatshoofde gesit.
Cyril Ramaphosa, wat as gasheer opgetree het, het gesê die gala-ete is ‘n viering om dankie te sê aan diegene wat genooi is omdat hulle ‘n rol gespeel het in die verlede.
“Ons vier ook Afrika. Ons dank die res van Afrika vir hul ondersteuning vir die ANC. Dankie,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA