Talle ontruim, afgesny weens vloede
2011-01-14 07:30
Upington - Hoogdrama het hom Donderdag in die Benede-Oranje-gebied afgespeel toe verskeie gesinne op Kanoneiland en in Upington hul woonplekke moes ontruim en 11 mense op Keimoes deur vloedwater vasgekeer is.
Dié 11 is deur ’n weermaghelikopter na veiligheid gebring.
Talle mense het Donderdag die waterskouspel van die Augrabies-waterval en omstreke bewonder, asook die oorvol Gariepdam hoër op in die rivier, maar vir ander was daar benoude oomblikke.
Reën by Groblershoop en Prieska het gister veroorsaak dat die watervlak van die Oranjerivier by Upington weer begin styg het nadat dit vroeër effens gedaal het.
GEVAAR
Dit bring die gevaar mee dat Kakamas van die buitewêreld afgesny kan word.
Die verwagting is dat die watervlak vandag weer sal begin daal, tensy dit hoër op in die opvangsgebied weer begin reën.
Daar is gister hard aan ’n noodwal in die rivier by Kakamas gewerk om die brug na dié dorp te beskerm. Sonder die noodwal is dié brug in gevaar.
Die spanning loop hoog oor keerwalle hier wat weens die geweldige waterdruk dreig om mee te gee en die mense en hul omgewing kan bedreig.
Hendrik Henning, senior waterbeheerbeampte van die departement van waterwese, het gesê dit kan nie gewaarborg word dat die noodwal sal hou nie.
As die wal breek, sal die brug bedreig word en kan Kakamas van die res van die beskawing afgesny word.
Die versekering is gister opnuut gegee dat die Upington-brug nie bedreig word nie en dit onwaarskynlik is dat dit gesluit sal word.
Water het gistermiddag laat al meer oor die een kant van die voetgangerbrug geplas, maar dit is wel deur die wal aan die ander kant gestuit.
SKADE
Gister is 4 377 kubieke meter water per sekonde (kumek) by die keerwal by die dorp verby en sowat 4 900 kumek word vandag verwag. Môre sal daar na verwagting 5 200 kumek verbyvloei.
Gilbert Lategan, rampbestuurhoof van die Siyanda-distriksmunisipaliteit (Upington), het gesê nege gesinne is gister uit die gebied langs die teerpad uit Kanoneiland na die Louisvale-pad ontruim toe die pad oorstroom het.
Altesaam 65 mense is nou al ontruim. Hulle word in die gebou van die Rooms-Katolieke kerk op die eiland gehuisves.
Die brug na die pad wat die eiland met die Louisvale-pad verbind, is vroeër die week gesluit nadat water daar begin oorstroom het. Die Oranjerus-vakansieoord het óók oorstroom.
Talle landerye in veral die Augrabies-gebied is die afgelope paar dae oorspoel, terwyl ’n aantal landerye digby Upington oorkant die woonbuurt Keidebees ook in die slag gebly het nadat ’n keerwal gebreek het.
Altesaam 22 gesinne is uit dié gebied ontruim en word in tente by die ou inryteater buite die dorp gehuisves.
Dele van die Eiland by Upington is ook oorstroom. Mnr. Hannes Combrinck, speaker van die Khara Hais-munisipaliteit, het gesê die chalets hier word nie bedreig nie.
Die rugbyveld van die Upington-rugbyklub, waar die Kalahari-kuierfees gehou word, is onder water.
Combrinck het gesê in Upington het kleinboere kwaai skade gely toe hul lusern- en katoenlanderye oorstroom het.
Die water het gister naby etlike gastehuise in Upington geklots, maar sover bekend was daar nog nie ernstige skade nie.
Lategan het gesê die watervlak in die rivier was gisteroggend 7,46 m, maar het weer begin styg tot sowat 7,5 m Donderdagmiddag. Die verwagting is dat dit vandag tot tussen 7,7 m en 7,8 m kan styg. Dit sal daarna begin afneem, tensy dit oor hoogliggende gebiede reën. Sowel Combrinck as Lategan het gesê die voertuigbrug by Upington se sluiting word nog nie oorweeg nie.
Henriëtte Engelbrecht, bemarkingsbestuurder van Sanparke se ariede parke in die Noord-Kaap, het die versekering gegee dat die Augrabies Watervalle Nasionale Park steeds oop is vir besoekers.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger