Talle niere in Kaap onwettig oorgeplant
2011-06-10 08:01
Kaapstad - Daar was tussen 2001 en 2003 minstens 42 onwettige nieroorplantings tussen lewende buitelandse skenkers en ontvangers in twee Kaapse hospitale.
Twee van die operasies was in die Groote Schuur-hospitaal en minstens 40 in die destydse City Park-hospitaal (deesdae die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal), het dr. David Bass, mediese konsultant van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, vandeesweek aan Die Burger gesê.
Bass het gesê prof. Del Kahn, destydse hoof van die Oorplantingsvereniging van Suid-Afrika en tans hoof van chirurgie aan die Universiteit van Kaapstad, het ná die twee oorplantings by Groote Schuur besef die skenkers en ontvangers ken mekaar nie. Hy het vermoed dit is “niere-vir-kontant-operasies”.
Kahn het ’n memorandum aan oorplantingseenhede in die land gestuur om op die uitkyk te wees vir verdagte buitelandse pasiënte nadat ene mnr. Ilan Perry, ’n Israelse sakeman wat glo ’n middelman was, hom genader het.
“Prof. Kahn het onraad vermoed nadat twee pasiënte, wat glo neefs was, nie eens na mekaar gekyk het in die hospitaal se gange nie. Die polisie het die saak ondersoek en was oortuig dat daar geen skuld aan die kant van die dokters by Groote Schuur was nie,” het Bass gesê.
“Daar was selfs sprake van inhegtenisnemings by die Chris Barnard-gedenkhospitaal, maar dit het nooit gebeur nie. Die polisie het dit ondersoek, want hulle het rede gehad om te glo daar was iets onwettigs aan die gang. Ek het meer as twee jaar laas van die polisie gehoor. Ek weet nie wat daarvan geword het nie,” het Bass gesê.
Netcare, aan wie die hospitaal behoort, het by navraag aan Die Burger gesê die polisie het beslag gelê op sy dokumente en hy kan nie kommentaar lewer op die “getal wat aangehaal word nie”.
Hy kan dit ook nie nagaan of ’n ondersoek doen nie, omdat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) hom in 2004 amptelik versoek het om ’n interne ondersoek te staak, “want die polisie ondersoek die saak”, het Netcare gesê.
Adv. Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die NVG, het gesê hy wil nie betrek word in ’n woordewisseling oor “wie wat vir wie gesê het” nie. “Sover dit ons aangaan, is daar geen dossiere in Kaapstad of Johannesburg nie.”
Theuns Botha, provinsiale minister van gesondheid, het gesê hy is gemaklik met die departement se geskiedenis in die saak, al was dit nie in sy ampstermyn nie.
“Ek sou saam met jou verkies dat die volle waarheid in die openbare belang aan die lig kom by elke plek waar dit gebeur het.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger