Talle laerskoolleerders verslaaf aan bier, dagga
2010-04-01 06:54
Kaapstad - Verskeie laerskoolleerders van ’n skool in Faure naby Macassar is verslaaf aan dwelms en drank.
Altesaam 14 leerders tussen 6 en 12 jaar wat alkohol – spesifiek bier – gebruik en dagga rook, is die afgelope week deur amptenare van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) geïdentifiseer.
Volgens ’n woordvoerder van die WKOD, Bronagh Casey, het hulle ’n wenk gekry dat daar vyf leerders by die skool is wat aan middels verslaaf is.
Amptenare van die Veilige Skole-eenheid en maatskaplike werkers het die skool besoek. Dié leerders het nog medeleerders geïdentifiseer.
Volgens Casey kan die naam van die skool nie in dié stadium bekend gemaak word nie.
Twee inligtingsessies is met ouers en leerders gehou en ’n vergadering met rolspelers is belê om ’n intervensie-strategie te beplan.
Die Burger het ander skole genader om te hoor of hulle soortgelyke probleme het.
Charles Hendricks van die Primêre Skool Spurwing in Eersterivier het gesê daar is nie juis leerders wat dwelms gebruik in sy skool nie. Hulle moet eerder die uitdagings van kinders wat aan fetale alkohol-sindroom ly, hanteer.
“Dit is dikwels die ouers wat drank en dwelms misbruik. Dit vergroot die kans dat kinders in dieselfde siklus kan verval.”
Danie Human, hoof van die Hoërskool Bosmansdam in Bothasig, het gesê dwelms word nie by sy skool geduld nie.
“Dwelms is egter ’n probleem wat nie weggewens kan word nie.”
Robert van der Feyst, uitvoerende direkteur van Narconon, ’n internasionale dwelm-rehabilitasiesentrum in Kaapstad, het gesê dwelmgebruik kom al hoe meer by jonger kinders voor.
- Die Burger