Talle kuier nog in Kaap
2011-01-04 09:11
Die Burger
Kaapstad – Dit lyk of die groot trek huis toe eerskomende naweek én die een daarna die meeste vakansiegangers se voorland is.
Ofskoon die verkeer in die noorde van die land en aan die Natalse Suidkus reeds toegeneem het, kuier mense nog lekker in die Kaap en is hulle skynbaar nog nie oorgehaal om terug te keer huis toe nie.
Harold Williams, woordvoerder van die provinsiale verkeersdiens, het gistermiddag gesê die meeste van die provinsie se hoofroetes – soos die N1 naby die Hugenote-tonnel, die N7 en Sir Lowryspas – is nie regtig besig nie. “Die groot verkeer kom nog.”
Ashraf Ismail, woordvoerder van die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC), het gesê dit het Sondag al besiger begin raak by Beitbrug en in KwaZulu-Natal en daar was ’n redelike toename in verkeer terug Oos-Kaap toe, asook uit Kaapstad via Bloemfontein na Pretoria.
Die owerhede verwag daar sal twee spitstye wees: die eerskomende naweek vir diegene wat weer op 10 Januarie moet begin werk, en die volgende naweek, kort voor die skole op 17 Januarie heropen.
Ismail het gesê die RTMC verwag ook verkeer wat in dié tyd in die teenoorgestelde rigting sal beweeg, aangesien sommige mense nou eers met vakansie gaan.
Die instelling stel Woensdag die jongste padsterftesyfers bekend. Die nooddiens ER24 het intussen gesê sowat 1100 mense het reeds die afgelope feestyd op paaie omgekom. Dié nooddiens het landwyd hulp by 2970 ongelukke verleen.
Die RTMC het in Oktober met ’n nuwe veldtog begin om maandeliks minstens een miljoen motors te stop. “Dit is om te wys ons is nie net in April en Desember sigbaar nie, maar die hele jaar.”
In Oktober is 1,3 miljoen motors gestop en in November 1,4 miljoen. Die syfer vir Desember is nog nie bekend nie, maar Ismail hetgesê die RTMC verwag meer as 1,5 miljoen motoriste is in dié maand gestop. “Ons wil aanhou tot ons elke voertuig in Suid-Afrika gestop en nagegaan het.”
Calvyn Gilfellan, uitvoerende hoof van Cape Town Routes Unlimited, het gesê baie besoekers bly langer in Kaapstad vir die derde kriekettoets, wat tans op Nuweland tussen Suid-Afrika en Indië beslis word.
“Ons vind verder dat verskeie gesinne met skoolgaande kinders hul besoek aan die Wes-Kaap verleng om op te maak vir die onplesierige weersomstandighede aan die begin van Desember. Die wind verlede week het trekpleisters soos die Tafelberg-sweefspoor gekortwiek, maar besoekers het die provinsie ingevaar om die gure weer in die stad te systap.”
Stadsowerhede verwag egter ’n nuwe vlaag besoekers teen middel Januarie.
Kevin Jacobs, woordvoerder van die Kaapstadse verkeersdiens, het gesê dit lyk of hier nog baie vakansiegangers is, omdat strande nog besig is.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger