Talle kampe in Krugerpark steeds ontoeganklik
2012-01-19 15:01
Johannesburg – Talle ruskampe in die Kruger Nasionale Park was Donderdag steeds ontoeganklik ná swaar reënbuie vroeër vandeesweek daar uitgesak het, het Sanparke gesê.
Die Talamati, Buyamiti en Shimuwini-kampe was steeds afgesny, het Reynold Thakhuli, woordvoerder, in ‘n verklaring op Sanparke se webwerf gesê.
Die Talamati en Balule-kampe is oorstroom, terwyl ses tente by Laer Sabie ontruim moes word.
Die werknemers se woongebied, kampeerterrein, swembad en vulstasie by Letaba is ook oorstroom.
By Skukuza is een werkershuis oorstroom en die inheemse kwekery is beskadig. Geen ernstige skade is by die ruskamp aangemeld nie.
Die pad tussen Skukuza en Tskokwane is steeds gesluit, met die hoogwaterbrug wat ongeskonde is, maar deur die puin versper is.
Die Krokodilbrugpad is steeds gesluit, maar die ruskamp met dieselfde naam is ongedeerd en die water het 50 meter van die heining opgehou styg.
Alle grondpaaie suid van die Letaba-rivier was teen Donderdagmiddag steeds gesluit.
– Volg Nuus24 op Twitter