Talle NG kuddes herderloos
2010-06-13 07:30
Rapport
Johannesburg - Talle NG gemeentes kan binne 15 jaar sonder predikante sit.
Meer as die helfte van die NG Kerk se dominees gaan binne die volgende 15 jaar emeriteer (aftree) – ’n gedagte wat die laaste weke tot ’n paar bekommerde kennisgewings in sinodale nuusbriewe gelei het.
Een (in die nuusbrief van die Namibiese sinode) het selfs onder die opskrif “NG dominees – ’n ouetehuis wat soek na ’n plek om gebou te word” verskyn.
Uit die NG Kerk se 1 639 predikante is meer as 50% ouer as 50.
Gegewe die aftree-ouderdom van 65 beteken dit ’n naderende en ernstige tekort aan dienende predikante.
’n Ondersoek na die kwessie is tans by die algemene dienstegroep: gemeenteontwikkeling se taakgroep vir predikantebegeleiding onderweg.
In die Oos-Kaapse sinodale nuusbrief word daar selfs gemeld dat die kerk dalk weer na die aftree-ouderdom van predikante sal moet kyk.
“Maar dit is niks meer as ’n noodmaatreël nie, en ’n mens weet nie eens of dit ’n goeie oplossing is nie,” sê dr. Theo Swart, voorsitter van die taakgroep gemoeid met predikantebegeleiding.
Daar word jaarliks tussen 30 en 40 NG predikante in die drie NG kweekskole gelegitimeer.
“Daar is ’n diskrepansie tussen die predikante wat inkom en die aanvraag,” sê Swart.
Daar is reeds ’n hele paar gemeentes, veral in die Noord- en Oos-Kaap, wat permanent vakant is en wat nie weer iemand sal kan beroep nie.
“Daar lei hulle nou lidmate op om sekere predikantsfunksies te vervul.
“Daar is ook reeds 20 tot 25 gemeentes in die Oos- en Noord-Kaap waar emeriti (afgetrede predikante) nou predikantsfunksies vervul.”
Hulle kry ’n plek in die pastorie en bedien die gemeente, hoewel van dié emeriti al in hul sewentigerjare is.
Heelwat gemeentes rasionaliseer ook poste weens toenemende geldelike druk.
Die kerk kyk tans na ’n aantal moontlikhede om dié naderende krisis die hoof te bied.
Pogings gaan onder meer opgeskerp word om proaktief nuwe predikante te werf – onder meer deur brosjures in gemeentes te versprei.
Verder is die laaste ruk ’n beleid oor voortgesette bedieningsontwikkeling (VBO – waardeur dienende predikante verdere beroepsopleiding ontvang) in werking gestel.
“Ons het ook nou ’n taakspan saamgestel om holisties aandag aan onder meer toekomstige teologiese opleiding te gee.
“Ons sal nie meer noodwendig mense vir ses jaar kan wegneem om opgelei te word nie, veral nie ouens wat teologie as ’n tweede beroep studeer nie.”
En voorts sal daar gekyk moet word na die manier waarop opgeleide predikante wat nie voltyds in die amp wil staan nie, ingespan kan word.
Daar is tans 400 opgeleide NG predikante wat nie voltydse poste wil beklee nie, 170 in diens van ander kerke, 36 kapelane en 400 wat uit hul poste getree het, maar steeds beroepbaar is.
“Daar kan binnekort ’n tyd aanbreek dat ’n voltydse dominee ’n luukse vir gemeentes sal wees,”
sê Swart.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport